Die begin van die nuwe jaar skop gewoonlik met een hengse jol af, en dan word mens wakker op die eerste Januarie, hoe okal vroeg of laat dit mag wees, en besef, dis nou dit. Die nuwe jaar is hier. En skielik sak daar ‘n leemte toe wat eintlik onverklaarbaar voel. Die leemte het te make met die rou proses van die vorige jaar se ideale, drome en hoop wat moontlik nooit gerealiseer het nie. Maar ook met die onsekerheid wat die nuwe jaar mag inhou. Mense rou eintlik op klein en groot maniere oor verskeie dinge elke dag. En ‘n groot gedeelte hiervan het te make met nuwejaar voornemens.
Maak nie saak watse druk jy van binne of buite in die media of jou kultuur beleef nie, probeer verhoed om groot Nuwejaars voornemens te maak. Jou brein is nie gemaak om groot uitspattige, en onrealistiese voornemens te behou nie. En wanneer jy sukkel om by die voorneme te bly, kan dit jou self vertroue op ‘n bewuste of onbewuste vlak aftakel.
Mense maak Nuwejaars voornemens met die beste intensies, om jouself te verbeter, of jou lewenskwaliteit te verhoog, wat dus ‘n verwagting opstel. Maar sonder om die brein te verstaan stel jy jouself op vir mislukking. Freud het gepraat van die lewens dryf om beter te wees en te strewe. Want die mens voel oorheersend nie goed genoeg nie.
Wanneer jou voorneme te ver van jou huidige gewoontes is, voel jou brein of hy in gevaar is. Dit is ‘n trauma respons, en geen nuwe fantastiese gewoontes kom vanuit so ‘n plek nie.
Voornemens soos “Ek gaan elke liewe dag oefen van nou af” of “Ek gaan nooit weer suiker eet nie”, of “Ek gaan 40kg hierdie jaar verloor”, is ‘n probleem want stuur die brein in vrees modus in want die verwagting is te ver van jou gewone, bekende lewe af weg.
Ware transformasie vind plaas deur klein daaglikse keuses en gewoontes wat jy 100% weet jy kan na kom.
Dit help ook om op ‘n glyskaal te werk. Pas dus jou voorneme aan soos jy hulle baas raak. Byvoorbeeld, drink vir die eerste drie maande een ekstra glas water per dag, daarna twee, dan drie. Of word elke oggend net 10min vroeër wakker om te gaan stap, dan las jy ‘n oefen roetine by, en dan kom jy ook by die gym uit. Baba treetjies.
Hierdie bou of herstel ook self vertroue, want deur klein veranderinge voel die brein nie bedreig of dat dat hy in ‘n gevaarlike situasie is nie. Vier ook elke klein oorwinning, en belofte wat jy aan jouself behou het. Bly vasberade en jy sal verbaas wees wat jy in ‘n paar maande kan uitrig.